Afrika

 

Jonathan Edwards Sentrum Afrika Universiteit van die Vrystaat
Nelson Mandela Drive, 9300
Bloemfontein
Suid Afrika
telefoon: + 27 (0)51 401 2546
e-pos:  ALabuschagne.BIB@ufs.ac.za
              britzrm.hum@ufs.ac.za 

Die Jonathan Edwards Sentrum-Afrika is in 2009 gestig op grond van ‘n amptelike ooreenkoms wat tussen die Yale Universiteit, die Jonathan Edwards Sentrum en die Universiteit van die Vrystaat gesluit is.

Om toegang tot uitnemende opleiding in Afrika te verbreed, het die Yale Universiteit, die Jonathan Edwards Sentrum en die Universiteit van die Vrystaat, Fakulteit Teologie, in ‘n strategiese vennootskap saamgespan. Die uitgesproke doel van hierdie vennootskap is om veral die volgende generasie akademiese en kerklike leiers van Afrika as jong opkomende navorsers wetenskaplik toe te rus en te bemagtig om met onderskeiding en uitmuntende geleerdheid leiding te gee. Primêre Jonathan Edwards bronne word toeganklik gemaak vir navorsing, opleiding en publikasie. Die Jonathan Edwards Sentrum-Afrika, gesetel aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein, is die spilpunt van ’n aanlyn Afrika-netwerk waarin akademiese instellings as vennote kan deel.

Die missie van die Jonathan Edwards Sentrum is om die wetenskaplike ondersoek en vraagstelling na die lewe, geskrifte, en die nalatenskap van Jonathan Edwards aan die primêre bronne te bind. Hierdie bronne word beskikbaar gestel om ‘n kritiese waardering en skrutinering van die historiese belang en kontemporêre relevansie van Amerika se mees uitstaande teoloog te oorweeg en vas te stel. The Works of Jonathan Edwards Online (WJE Online) is die konkrete manier waarop ons ons missie en doel vergestalt. Die WJE Online is 'n digitale leeromgewing, uitstekend saamgestel vir navorsing, opleiding en publikasie. Die WJE Online bevat al Edwards se gepubliseerde en ongepubliseerde werke. Dit word begelei met nuttige annotasies en redaksionele aantekeninge wat die navorser in staat stel om die denke van Edwards met behulp van 'n ongelooflik kragtige en bruikbare manier te ondersoek.

Jonathan Edwards (1703-1758), pastor, herlewings-prediker, Christen-filosoof, sendeling en Kollegepresident word in die algemeen as Noord-Amerika se mees invloedryke teoloog beskou. Hy is die onderwerp van toegespitstse wetenskaplike belangstelling en navorsing. Dit moet toegeskryf word aan sy impak as historiese figuur sowel as sy betekenisvolle nalatenskap op Amerika se godsdienstige en intellektuele landskap. Sy geskrifte word wêreldwyd in toenemende mate deur godsdienstige leiers, predikante, lidmate en kerke, vanweë die trefkrag van sy boodskap en die insig en skerpsinnigheid waarmee hy religieuse ervaring takseer, geraadpleeg. Vir meer as twee eeue was navorsers en lesers van Edwards egter aangewese op onakkurate en onvolledige uitgawes van sy geskrifte. Om hierdie probleem te ondervang is in 1953 by die Yale Universiteit begin om ‘n omvattende en volledige kritiese uitgawe van al sy geskrifte te publiseer. Dit is uitgegee deur die Yale University Press as The Works of Jonathan Edwards. In The Works of Jonathan Edwards, wat 26 letterdrukvolumes beslaan, is egter minder as die helfte van sy geskrifte opgeneem. Met die doel om die geheel van Edwards se letterkundige en geskrewe korpus op ‘n internasionale grondslag te verskaf, het ons The Works of Jonathan Edwards Online (WJE Online) geskep. Dit is ’n digitale omgewing wat navorsing, lees asook die onderrig van Edwards se geskrifte moontlik maak en ondersteun. Hierdie volledige databasis, toegerus met ‘n kragtige soekfunksie, bevat die 26 volume The Works of Jonathan Edwards, plus tienduisende bladsye van ongepubliseerde transkripsies: preke, dagboeke, opstelle, briewe en personalia. Hierdie primêre tekste word aangevul met naslaanwerke, sekondêre literatuur, kronologieë, oudio, video en beeldmateriaal. Eenvoudig gestel, daar bestaan geen ander vergelykbare digitale bron oor enige ander Amerikaanse teoloog en invloedryke godsdienstige leier nie.